The road to Emmaus — Luke 24:13-35
Hierdie eenvoudige kunswerk van die twee Emmausgangers gee heerlike ruimte vir refleksie. Ek sal jou nogal aanmoedig om Lukas 24 weer te gaan lees en dan weer na hierdie prentjie te kyk en oor jou eie ken en herken van Jesus na te dink.
Jesus is die deursigtige buitelyn figuur wat saam met twee van sy volgelinge wegstap van die Jerusalem-ontnugtering van Jesus se kruisdood. Hulle stap na hul huis in Emmaus. Jesus word geteken as ’n vreemdeling wat erens langs die pad met hul saam stap. Jesus, die buitelyn-figuur — is iemand wat hulle gedink het hulle ken, maar hier, in Sy saamstap, het hulle Hom glad nie herken nie. Hulle het dalk ’n buitleyn idee oor Christus – maar hulle het die detail van wie en hoe en hoekom Hy is, heeltemal gemis. Hulle beoefen wel die gepaste gasvryheidverwagting om die buitelyn-figuur, die vreemdeling, in te nooi in hul huis “Want dit is amper nag”, skryf Lukas. Daar in hul huis, om die kombuistafel, gebeur die wonder: wanneer die buitelyn-gas die rol van die gasheer inneem en die brood breek — dan gaan hulle oë oop en hulle herken vir Jesus en wat Hy gesê en gedoen het en hulle herken ook wat Sy teenwoordigheid aan hulle gedoen het tydens hul padlangse gesprek.
Ek wonder oor die buitelyne wat ons oor Jesus het, ek wonder oor die detail van wie en hoe en hoekom Hy is wat ons dalk nie onthou of besef nie en dat Hy daarom onherkenbaar vir ons bly. Ek wonder hoe lyk innooi, hoe laat ek Hom toe om die brood te breek; Ek wonder wat sal ons herken-van-Hom aan ons doen, waar en hoe sal dit ons beweeg, en waartoe…
Caravaggio – Supper at Emmaus I
In 1601 skilder Caravaggio The Supper at Emmaus soos Lukas 24 dit beskryf in opdrag van Cardinal Ciriaco Mattei van die Katolieke kerk.
Die skildery is oordadig:
Groot kontrasterende kleure en teksture;
Groot handgebare en reaksie van die twee Emmausgangers.
Dit is asof daar ’n Kollig op Christus en die tafel val.
Jesus is ’n volronde-karakter baie soos die adelikes en vernames van daardie tyd deur bv Raphael geskilder is.
Dit is asof Jesus uit ’n ander tyd en era kom – sy klere en gelaatstrekke lyk totaal anders as sy twee volgelinge sin.
Die kos en eetware is oordadig en die mantjie vrugte is heeltemal buite seisoen.
Dit is lig, kleurvol en triomfanklik.
Op 28 Mei 1606 raak Caravaggio en Tomassoni Ranuccio handgemeen. Caravaggio is beseer maar Ranuccio sterf van ’n maagwond. Caravaggio verdwyn en vlug na die Colonna wonings in die Alban Heuwels suid van Rome. ’n Banda Capitale is deur die regering uitgereik en enige iemand wat hom arresteer kon hom dadelik tereg stel en dood maak. Vir ’n rukkie was Caravaggio veilig onder die beskerming van die prinses van Colonna en dit is hier waar hy sy tweede Supper at Emmaus geskilder het kort voor sy dood.
Caravaggio – Supper at Emmaus II
Hierdie is die kunswerk van ’n man wat deur die dood bedreig was. Hierdie is die kunswerk van ’n man wat iemand doodgemaak het.
Hierdie tweede uitbeelding is heelwat donkerder. In hierdie prentjie is dit duidelik nag en die algehele gevoel is somber. Jesus is ouer, maarder en sy postuur is selfs kleiner as die van die ander karakters in die skildery. Sy hande is maarder en sy naels is vuil. Sy klere is baie meer eietyds en in pas met die ander karakters. Dit is minder uitspattig. Handgebare is meer ingeperk en die kleur is uitgedoof en minder kontrasterend. Die eetgerei en kos is minder en eenvoudiger – net twee brode, ’n kraffie wyn en ’n paar groen blare. En dan is daar ’n nuwe 5e karakter by: ’n diensmeisie, ’n vrou met ’n strak gesig wat soos Jesus afwaarts kyk en nie oogkontak maak nie met ’n snit gebraaide lam in ’n skottel. Ongetwyfeld ’n heenwysing na die offerlam vir die sonde van die wêreld.
Hierdie tweede weergawe is meer eietyds, minder uitspattig en triomfanklik. Dit is meer gestroop, nadenkend. Hierdie Christus is een wat gely het waar sy eerste skildery vertel van Christus wat oorwin het.
’n Mens kan net raai wat Caravaggio alles deur sy kunswerke wou sê: Bedink hy sy eie vergifnis?
Sien hy Christus vanuit ’n meer nederige hoek?
Waar Christus in sy eerste poging amper uit die donker skaduwees na vore kom in die lig is dit asof Christus hier in die donkerte gaan verdwyn…
Wat duidelik is, is dat Caravaggio se omstandighede beslis ’n invloed op sy uitbeelding van dieselfde toneel uit Jesus se lewe gehad het. Wat sien jy in die kontrasterende prentjies raak?
Belangriker nog: Hoe sou jy vanuit jou omstandighede hierdie selfde toneel skilder en wat sou jou prentjie van jou lewe verklap…?