deur André Serfontein

Ek het ’n vriend wat nie eintlik aan die lirieke van musiek aandag gee wanneer hy daarna luister nie. Hy weet dat ek nogal fyn daarop ingestel is, en daarom sal hy elke nou en dan spot en sê: “Gaan luister bietjie na hierdie song; ek het geen idee waaroor dit gaan nie, maar ek dink dis cool.” Ek kan heeltemal verstaan dat musiek hom kan roer, selfs wanneer  hy geen idee het waaroor die inhou van die lied gaan nie. Musiek praat meer as een taal; dit kan – sonder woorde – met die wêreld van ons emosies in gesprek gaan en ons laat voel of íemand darem verstaan.  

Wanneer musiek wel lirieke het, kan ’n ingesteldheid daarop jou nogal bederf met die ontdekking van nuwe dimensies in musiek. Wat veral dan gebeur is dat ons dualismes uitgedaag word: ons verdeel (dikwels onbewustelik) graag die wêreld – én die musiek waarna ons luister – in die boksies van sekulêr en geestelik. Die lirieke van musiek help my gereeld om die wêreld en myself beter te verstaan. Die lewenswaarhede wat ek daarin ontdek bevestig, bevraagteken en verruim die geloofswaarhede waarmee ek leef. Dit het vir my baie geestelike waarde, soos hierdie uittreksels uit die volgende twee songs…

And then I looked up at the sun and I could see

Oh, the way that gravity pulls on you and me

And then I looked up at the sky and saw the sun

And the way that gravity pushes on everyone

On everyone 

– Aangehaal uit die song ‘Gravity’ van Coldplay

 

Let’s start a fire

Let’s pull this trigger

’cause all these bruises

Make our skin thicker

Now everybody

can see our scars

It’s what we’re made of

It’s who we are

– Aangehaal uit die song ‘Who we are’ van Welshly Arms

 

Hierdie songs herinner my aan die geskenk, en die wese, van geloofscommunity. Watter ander community in jou lewe is eerlik oor ons eie en mekaar se verwondheid? Watter ander community nooi jou uit om jou ware identiteit te ontdek deur die omhelsing van jou gebrokenheid? Waar anders leer jy wedersydse, onvoorwaardelike aanvaarding? Geloofscommunity het ’n unieke identiteit. Ek wil waag om te sê dat dit meestal  heeltemal anders is as die ander groepe waaraan ons behoort. Hierdie twee liedere herinner my aan die rasionaal van geloofscommunity, en inspireer my om dit te omhels. 

Gelowiges se deelname aan geloofscommunity is meer as ooit onder druk. Daar het ’n sterk kultuur van individualisme ontwikkel in die wêreld. Te midde daarvan word ons van alle kante af gedring om onsself te verbind aan verskeie vorme van community. Maar selfs hierin is geloofscommunity anders: dis nie regtig opsioneel of ons daaraan wil behoort of nie. Dis eenvoudig deel van ons identiteit. As jy ’n volgeling van Jesus is, ís jy deel van sy liggaam. “It’s what we’re made of; it’s who we are.” Die vraag is dan eerder of ons hierdie verbondenheid verstaan, en beide die geskenk en uitnodiging daarvan ontdek. 

Die geskenk van geloofscommunity lê onder andere daarin dat dit ’n weg bied waarlangs ons gevorm word in ons navolging van Jesus. Dit is ’n wesenlike deel van ons reis na  ’n gesonde, volwasse spiritualiteit, soos Eugene Peterson so goed verduidelik:

“Community is intricate and complex. Living in community as a people of God is inherently messy. A congregation consists of many people of various moods, ideas, needs, experiences, gifts and injuries, desires and dissapointments, blessings and losses, intelligence and stupidity, living in proximity and in respect for one another, and believingly in worship of God.  It is not easy and it is not simple…

I did not come to this conviction easily, but there can be no maturity in the spiritual life, no obedience in following Jesus, no wholeness in the Christian life apart from an immersion and embrace of community. I am not myself by myself. Community, not the highly vaunted individualism of our culture, is the setting in which Christ is at play.”

Die uitnodiging van geloofscommunity lê daarin om te ontdek dat ons ’n geskenk is vir mekaar se reis tot heelheid en groei. Ek het ’n gawe, ’n ervaring, ’n perspektief wat jy nodig het, en jy is weer op jou unieke manier ’n geskenk vir my. Saam verteenwoordig en verbeeld ons Christus; raak sy liefde vir ons sigbaar, konkreet, verstaanbaar. Sy droom is dat ons dit op só wyse sal doen dat die wêreld onder die invloed sal kom van sy liefde. 

Wat ’n geskenk. Wat ’n uitnodiging.