Hallo almal
Ek vermoed die helfte van ons het gevlug van die Wes-Kaap se wilde winter. Indien wel, mag julle ’n wonderlike reis beleef. Indien nie, mag julle warm oomblikke beleef rondom ’n kaggelvuur.
As leierspan by SG kyk ons, soos die meeste van julle waarskynlik ook doen, met verbasing terug op die tempo waarteen die eerste ses maande van hierdie jaar verloop het. Soos die Eersterivier in vloed! Dit was besig, vinnig en meesleurend. Soos die water metafories gaan lê – nie net na hierdie ses maande nie, maar eintlik sedert Covid se rug gebreek is – kan ons begin waarneem hoe die landskap van die lewe geskuif het. Hierdie skuiwe het implikasies vir alle terreine van die lewe, ook vir kerkwees. Ons wil jou nooi om tyd te maak om saam met ons oor ’n paar implikasies te reflekteer.
Dis nie moelik om saam te stem met die algemene waarneming dat die wêreld waarin ons leef al meer gepolariseerd raak nie. Dit bly fassinerend dat Jesus polarisasie ingebou het in die eerste geloofs-community deur vissermanne, ’n belastinggaarder én ’n Seloot te nooi om Hom te volg. Dis duidelik dat ons navolging van Jesus bedoel is om ons diversiteit en verskille te transendeer. Geloofs-community is ’n plek waar ons leer verdra, luister, liefhê, dien en om met sagte oë na ander te kyk. Ons het nodig om polarisasie en andersheid te omhels as ’n geskenk vir ons eie vorming, asook dié van SG.
Dis ook nie moeilik om raak te sien dat ons lewens, en selfs ons kultuur, al meer selfgerig raak nie. Dis nie noodwendig ’n aantyging van selfgesentreerdheid nie, maar eerder ’n waarneming oor hoe besig ons lewens is. Ons hou baie belange vas, van werk, liefdesverhoudings, huwelike, gesinne, families, troeteldiere en gesondheid tot begrotings, beleggings, eiendomme, belangstellings, behoeftes en beplande vakansies. In ’n oogwink word die meeste van ons energie en tyd gerig op die volhoubaarheid en instandhouding van ons eie lewens en bestaan, byna in ’n eerste-wêreldse oorlewingstryd. Gelykertyd soek ons egter na ’n identiteit wat ons Godgegewe drang na sin en betekenis kan ontsluit. Die terapeut en skrywer Parker Palmer sê die volgende: It is no accident that contemporary religious jargon so frequently refers to getting “in touch with one’s self”, because we have lost confidence that anything beyond the self exists or can be trusted. Those words replace what another age meant by “seeking the face of God”.
Jesus se uitnodiging (Luk 17) is ’n paradoks: “Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.” Die weg na ’n gesonde self word gevind op die weg van die navolging van Jesus, wat sy identiteit anker in God se onvoorwaardelike liefde en aanvaarding. Hierdie is nie die weg van individualisme nie, maar van community. Jesus leef binne hierdie ritme; Hy beweeg die hele tyd tussen solitude en community. Dis die basis vir ’n gesonde self, en ’n gesonde prentjie van God. Ons gaan aanhou om jou uit te daag om geloofs-community te prioritiseer te midde van vele ander belange.
’n Laaste waarneming is die tendens van groeiende isolasie te midde van ’n wêreld wat kleiner en kleiner word. Ons konnektiwiteit neem toe, maar die reikwydte en diepte van ons konneksies neem af. Ons is deel van baie communities, maar voel dikwels nie of ons behoort nie, en of ons raakgesien en raakgeluister word nie. Die geskenk van geloofs-community is dat dit ’n wederkerige ruimte is, waar ons gawes gebruik word om mekaar se wording na Jesus se beeld te realiseer. Min communities bestaan vir hierdie doel.
Die mees opwindende deel van ons deelwees van SG lê in die impak wat ons daardeur kan hê op die ander communities waarvan ons reeds deel is. Ons wil en kan mekaar inspireer tot optimisme en hoop, en mekaar bemagtig om ’n deernisvolle, genesende en lewegewende impak te hê in die communities waarvan ons nog deel is. Die welstand van ons dorp, land en wêreld is afhanlik van die kwaliteit van belonging binne ons gemeenskappe.
Ons roeping is die heelheid van alles en almal, nie net van die gemeente nie. Maar dis in geloofs-community waar ons leer om ons polarisasie, ons isolasie en self-gerigtheid om te keer tot verbondenheid en ’n omgee vir die geheel. Ons wil jou nooi om in die volgende semester ’n tree nader te gee aan hierdie roeping.
Die besigheidplan van hierdie roeping bly ’n uitdaging. Na die eerste 6 maande van die jaar staan ons begroting op ’n tekort van nagenoeg R400 000. Hoe meer gepolariseerd, selfgerig en individualisites ons community raak, hoe minder geld vloei na buite. Dis ’n bron van sekuriteit ’n wêreld van scarcity. Ons vertrou dat jy ook ’n finansiële vennoot kan wees van SG, en saam met ons leef in vertroue en afhanklikheid van God.
Ons is daarvan oortuig dat die bediening in en deur SG – deur betaalde en onbetaalde lede van ons community – deel is van God se beweging. Daarom is hierdie uitnodiging so relevant: “Do not commit yourself to community, but commit yourself to the God who stands beyond all human constructions. In that commitment you will find yourself drawn into community. And in that commitment the difficult lessons of community can be borne and transformed into a larger and truer life.”
Ons sien mekaar gou! Ons hoop almal kry goeie rus.
Vrede
André, namens die span