deur Deon Botha
Gesinsgewoonte #3: Diensbaarheid
Een van die baie effektiewe maniere om jou gesin geestelik te laat groei is om as gesin saam een of ander diens te verrig. Beide die kinders en ouers sal ‘n groeiende lewende geloof ontwikkel wanneer hulle saam ander dien. Dit is hier waar kinders/tieners hul ouers se geloof en waardes in aksie sien.
Ons gesin was betrokke by ‘n projek vir die kinderhuis in Robertson, dit het behels dat ons ‘n hele naweek in die vakansie daar gaan bly terwyl ons dit uitverf. Die gesprekke, vrae en insigte wat almal van ons daardeur gekry het, het ons baie meer verryk as die laag verf in die kamers. Daar het ‘n band tussen ons gevorm wat nie net tydens die projek daar was nie maar elke keer daarna wanneer ons die storie met iemand deel. Diensbaarheid is nie iets wat ons slegs een keer ‘n jaar doen nie, dit is ook in die daaglikse uitleef daarvan waar ons geloof tot uitdrukking kom waar ons kinders dit kan ervaar. Gesinne kan daagliks hierin belê en diensbaar vir mekaar wees.
Gesinsgewoonte #4: Rituele en Tradisies
‘n Gesin se eie identiteit word gevorm deur hulle daaglikse roetines, hoe hulle sekere mylpale vier en deur hulle gewoontes/rituele. Rituele en tradisies is daardie gedragspatrone wat op ‘n gereelde basis herhaal word en is gelaai met betekenis. Hierdie rituele is ‘n aanduiding van die waarde wat die gesinslede plaas op hulle verhouding met mekaar asook hulle verhouding met God.
Gesinsrituele kan baie vorme aanneem, jaarlikse rituele sal die viering van verjaarsdae, herdenkings en spesiale gebeurtenisse insluit. Deur dit spesiaal te maak word baie waardes en identiteit gevorm.
Daaglikse roetines sluit in: etenstye, bedtyd, klaarmaak vir skool of huiswerk smiddae. Hierdie daaglikse roetines voel vir baie soos rompslomp voel. Die gesin kan deelneem aan rituele in die kerk soos Advent, Lydenstyd, Kersfees en Paasfees. Dan is daar ook rituele rondom goed soos geboortes, sterftes, eerste skooldae, tandemuise, rapporte en matriekafskeide ens.
Hierdie rituele sal wys wat vir die gesin waardevol is, wat hulle glo en voorstaan, asook hoeveel waarde aan geloof gekoppel word. Dis asof gesinsrituele in die genetiese kode van die gesin verweef word en so bly die familie-geskiedenis, geloof, waardes, hoop en drome behoue. Elke gesin, inteendeel alle gemeenskappe, het gewoontes met woorde, gebare, aksies en tradisies wat gereeld herhaal word. Dit is baie waardevol om as gesin intensioneel hierdie rituele toe te pas en dit te gebruik om waardes oor te dra en vas te lê. Begin selfs nuwes waar daar ‘n geleentheid is.
Gesinsgewoonte #5: Etenstyd
Daar is talle studies wat bevind dat daar ‘n korrelasie bestaan tussen ‘n gesin wat vyf of meer keer per week saam om ‘n tafel sit en eet en die verlaging van risiko-gedrag soos dwelm en alkohol gebruik by tieners. Daarmee saam ‘n wesenlike verhoging in positiewe kwaliteite soos emosioinele stabiliteit, laer stres in die gesin asook goeie ouer-kind verhoudings. Etenstye raak die plek waar gesinslede met mekaar kan in-check en ‘n positiewe self-identiteit en gesins-identiteit vorm. Die gesprekke wat rondom die etenstafel plaasvind anker gesinslede beter in die wêreld. Navorsing bevestig telkens dat gereelde etenstye saam ‘n geweldige positiewe impak op die gesin en individuele lede het.
Baie van die gesinsgewoontes gebeur rondom die etenstafel: geselskap, gebede, Bybel lees, viering van spesiale gebeurtenisse ensovoorts. Dit is een van die min gewoontes waar gesinslede hulle omgee vir mekaar kan uitleef en waar vir hulle omgegee kan word. Hierdie is een van die mees basiese behoeftes wat enige mens het saam met dié basieste behoefte van eet. Nie net die liggaam word gevoed maar ook die hart en siel. Dit is die tyd wanneer die gesin eerste kom, waar daar gelag en gesels en grappe gemaak word. Jesus het rondom etes baie van sy bediening op aarde gedoen.
Dit kan vir jou gesin ook die sentrale punt wees waar rondom gesprekke en konsepte van geloof gedeel kan word. Dit is die perfekte geleentheid om daagliks Jesus se teenwoordigheid in jou gesin te vier. Sy geur word as’t ware deel van jou gesin se genetiese kode.
Bronne
Anderson DW & Hill P 2003. Frogs Without Legs Can’t Hear: Nurturing Disciples in Home and Congregation. Minneapolis; AugsburgFortress
http://www.faithformationlearningexchange.net
Maak kontak met Deon