Herontdek werk as skepping

 

Voor ons God as Moederlike Vader, Versorger en Verlosser leer ken — ontmoet ons Hom as Verbeeldingryke Skepper (Gen 1 & 2). ’n Aktivistiese Rebel teen chaos, leegte en donker. ’n Vormer en Rangskikker met ’n oog vir detail. Nie net ’n Skepper en Rangskikker van objekte en voorwerpe nie — maar ook van diverse intrige en verhoudings.

Van lewe.

Jy is na Sy beeld, Sy gelykenis gemaak. Hiérdie verweefdheid met Skep vibreer in jou. ’n Chaos-frustrasie. ’n Skoonheid-verlange. ’n Lewegewende drang…Dit pols in jou soos ‘n oerinstink.

Ons sisteme en strukture en meganismes en kontroles…maak ons wonderbaarlik al meer beskaafd maar dalk sus dit ook ons sielsinstink tot beheerbare, voorspelbare, kwynende bedaring. Dink daaroor as die tragedie van ’n makgemaakte wilde dier wat sou vergaan as sy die wonderlike wilde wêreld van haarself-wees sou betree — juis omdat ’n tem-proses en -sisteem haar van haar oerinstink, haar moontlikheid om te floreer kom ontneem het.

Hierdie gedig oor wie God is (Gen 1&2), oor hoe ons onsself behoort te verstaan is juis geskryf vir mense wat verskraal is tot ’n slaafse rat in ’n Babiloniese sisteem. Die digter skryf juis om hulle te help onthou wie, en Wie s’n, hulle is. Want êrens langs die pad van sistemiese tempering verloor jy jouself en jou “one wild and precious life.”

Dit is dalk nodig om ‘n oorbekende storie weer vandag te onthou: Twee klipkappers word deur ’n verbyganger gevra “Wat maak julle?” Waarop een, sonder om op te kyk, antwoord “Kan jy nie sien nie! Ek kap klippe.” Die ander een kry ’n verbeeldingsvlug uitdrukking op sy gesig wanneer hy met verwondering sê “Ek is besig om ’n katedraal te bou!”

’n Mens kan selfs ’n derde en ’n vierde en ’n vyfde klipkapper byvoeg “Ek skep ’n tuiskom plek…’n ruimte vir transformasie, ’n aanbiddingskoor, ’n kanaal waardeur die wêreld verander kan word…” Die punt: Een werk. ’n Ander skep. Ek raai dat hierdie ander hoek op klip-kap-werk jou self-verstaan, jou gesindheid, jou intensiteit, jou motivering radikaal sal verander.

Wat sou gebeur as jy jou werk meer as ’n verlenging van God se skepping sou sien?

  • Hoe sou jy jou werk ’n ander kreatiewe/skeppende rolomskrywing kon gee, juis om hierdie skeppingsaard te laat herleef?
  • Watter ritueel of gewoonte kan jy ritmies in jou werk/lewe begin om hierdie skeppingsaard weer vry te laat?
  • Hoe kan jy weer invoeling kom met God en jou eie Skeppingsaard?

Ons wêreld het meer as ooit, in soveel fasette ’n kreatiewe-chaos-rebellie van herskepping nodig. Mag jy daarvan deel wees!

Groete,
Pieter