– Pieter Roeloffse –
Ek luister onlangs na ’n podcast waartydens die aanbieder in gesprek gaan met ’n kenner oor liefdesverhoudings. In haar aanloop tot die gesprek verduidelik sy aan haar gas dat sy nie regtig belangstel in die kwessies wat vandag relevant is binne verhoudings nie. Die nuuswaardige gebeure van vandag, reken sy, sal deur tientalle nuusagentskappe raakgesien, ontleed en berig word. Sy is veel meer geïnterresseerd in die trajek van die liefde; in die waarnemings wat hierdie kundige oor ’n lang tydperk kon maak. Haar intensie is nie om ’n (opper)-vlak-(kigge) gesprek oor die liefde te hê nie, maar om die tema te verdiep en te verbreed; om die wyn oop te maak wat al ‘n paar jaar verouder het. Ek is aanvanklik verras oor haar aanslag, maar hoe meer ek daaraan dink, hoe meer sien ek die rasionaal in haar perspektief.
Want VANDAG kan ’n versoeking wees.
Die soeke na sin, betekenis en relevansie in die beperkte 24 uur van híérdie dag kan ons soos ’n maalkolk meesleur en ons angstig laat snak na asem. Vandag, op sy eie, staan maar wankelrig. 1/30 is die gemiddelde breukdeel van hierdie dag teenoor die tydperk van ‘n maand. 1/365 is die breukdeel van vandag teenoor ‘n jaar – ’n geringe 0,26% van die aarde se reis om die son.
Watter breukdeel maak hierdie dag uit van jou leeftyd? Dit laat my wonder oor al die verwagtinge en hoop wat ons daagliks op hierdie dag projekteer. Is dit realistiese verwagtinge, of daaglikse versoekings?
Vandag kan ook ’n versoeking wees omdat dit ons klaarblyklik alles bied wat ons nodig het. Ons projekteer geen verwagting op die onsigbaarheid van die toekoms nie, want ons is daarvan oortuig dat ons reeds gearriveer het in die waarhede, die tendense, die giere van vandag. ’n Hoopvolle môre is nie nodig wanneer vandag ons uitsig verbloem met tydelike relevansie nie.
Maar VANDAG kan ook ’n geskenk wees.
Die geskenk van vandag – the present – is die potensiaal wat dit inhou om die trajek van ons lewens te beïnvloed. Vandag is waar ons elke dag is. Dis die enigste plek waarvandaan ons die potensiaal het om te beweeg. Vandag het nóg ‘vandae’ nodig – sommer baie van hulle. Vandag het ’n kumulatiewe eienskap – die waarde daarvan word sigbaar oor tyd.
Jy gaan nie noodwendig ná afloop van die vandag die effek sien van jou belegging in die nou nie. Maar doen dit nóg ’n vandag, en nóg een, en nóg een, en hou só aan (al slaan jy nou en dan een oor). Kort voor lank staan jy verwonderd oor die geskenk van die kumulatiewe waarde van tyd, oor vandag.
Die Bybelse tradisie van geloofsgewoontes.
Implisiet in hierdie verwondering-sommetjie oor die toenemende waarde van vandag is die aanname dat dit gevul word met betekenisvolle gewoontes. Ons lewelose, destruktiewe, liefdelose gewoontes het ongelukkig ook ’n kumulatiewe waarde. Die herhalende patroon van vandag kan ons soms laat stagneer en soos gyselaars gevange hou vir maande en jare. Daarom vra geloofsvorming vir intensie, vir “dieselfde gesindheid wat daar ook in Christus was” (Fil. 2).
Die geskenk van vandag is dat ’n daaglikse commitment daaraan die opstanding weer opnuut kan laat gebeur.
“What has really happened during the last seven days and nights? Seven times we have been dissolved into darkness as we shall be dissolved into dust; our very selves, so far as we know, have been wiped out of the world of living things; and seven times we have been raised alive like Lazarus, and found all our limbs and senses unaltered, with the coming of day.” – G K Chesterton
VANDAG is ook ’n uitnodiging.
Om afhanklik van God te leef.
Matteus 6:11
Gee ons vandag ons daaglikse brood;
Om bewustelik van God te leef.